Al sy broers en susters en sy vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet. Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het – Job 42:11a
Die Griekse woord parakaleoo kan met “bemoedig” of “vertroos” vertaal word, of selfs met die woord “onderskraging”.
Chris van Wyk skryf op die Bybelskool-webblad: “Om iemand te parakaleoo beteken om langs iemand te gaan staan, as’t ware jou arm om haar of sy lyf te slaan, en saam die pad na die heelheid wat God bring, te bewandel.”
Mense laat blyk soms hulle dink iemand het genoeg getreur en is geïrriteerd en haastig in die persoon se teenwoordigheid. Wat hulle eintlik met hul hele houding sê, is: “Ek is nou moeg dat jy treur. Ek wil aangaan met mý lewe.”
Vir iemand wat rou, gaan die tyd stilstaan. Die wêreld ook. Jou lewe word gestroop tot die absolute essensie. Daar hang ’n verlatenheid oor jou wat tot in jou diepste binneste vesels intrek.
Wanneer iemand dié verlatenheid raaksien en doelbewus uitreik na die een wat inkrimp in sy eie sirkeltjie verlies, breek die trooster deur ’n skans en kan werklik vir die treurende iets beteken. Maar, om dít te kan doen, moet hy self van vooropgesette idees, raad of geykte trooswoorde gestroop wees. Hy moet as’t ware keer op keer die persoon in die oë kyk met die onuitgesproke gerusstelling: “Ek is hier vir jou. Ek weet niks. Vertel my. Ek het tyd.”
’n Wyse persoon verstaan die hart van parakaleoo.
Here, leer my hoe om met deernis en liefde te troos. Amen.