Ek is soos ’n groen sipres. Alles wat jy het, sal van My af kom.
– Hosea 14:9
My lewe het drasties verander nadat ek in 2012 geskei is. Voorheen is ons elke Kersvakansie saam as gesin Nature’s Valley toe. Ek het ons plek reeds vroeg in die jaar bespreek om seker te maak ons kry ’n groot genoeg strandhuis – waar Frankie en sy maats ook lekker saam kon kuier.
Terwyl ek hier sit en skryf, dink ek terug aan daardie tyd. Die meeste mense wat ek ken, is reeds weg met vakansie. Net ek sit hier voor die rekenaar, alleen by die huis in Johannesburg, en werk om hierdie dagstukkieboek betyds in te lewer.
Voorheen sou ek dalk jammer vir myself gevoel het, maar nie nou meer nie. Uit hierdie klomp woestynjare op my eie het daar iets nuut in my innerlike wêreld ontwikkel. As alleenloper het ek die tyd gebruik om die Here beter te leer ken, én om myself beter te leer ken. Dit was beter as om ’n romantiese partner te probeer soek om die uurtjies om te kry en die emosionele gat te vul wat die egskeiding gelaat het. Ek het ook hierdie tyd gebruik om my gawes verder te ontwikkel.
Ek is dalk alleen met Kersfees en nie meer deel van ’n huwelik of ’n familiebyeenkoms of ’n joligheid rondom ’n feesmaal nie – maar ek is beslis nie eensaam nie. Ek gaan nie, soos jare gelede, weg na my gunstelingplek saam met my gesin nie, en tog voel ek steeds geseënd.
Want die Here is by my.
Wanneer ek die Here se liefdevolle en deernisvolle teenwoordigheid en krag in my voel bruis, voel dit soos vakansie. Hy is die boom wat altyd groen is waaronder ek sit.
Bruisgebed vir alleenlopers: Here, ek is bewus daarvan dat U my altyd beskut soos ’n lowergroen boom. Dankie dat ek in u koelte kan vakansie hou.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.