God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid – Psalm 46:2-4.
’n Vuurtoring is ’n vaste baken. Dit skuif nooit nie. Daarom kan ons sy lig vertrou. Wanneer die helder wit streep oor die water skeer, sien die bootjies én passasierskepe die gevare waarvan hulle in die nagdonkerte onbewus was. Nou kan hulle die rotse vermy en veilig verder vaar.
God waarsku ons nie slegs van ’n afstand nie. Hy is ons vaste punt in ’n onstuimige wêreld.
Die klassieke boek The snow goose deur Paul Gallico vertel van ’n misvormde kunstenaar, Philip Rhayader, wat in ’n vuurtoring woon. Fritha, ’n jong meisie, bring ’n beseerde sneeugans vir hom. Die vuurtoring word ’n toevlugsoord en plek van sorg en genesing vir die meisie én die gans.
God is vir ons ’n toevlug en beskerming. Ons mag met ons arms vol hartseer en pyn na die beskutting van die Vuurtoring kom en ons swaarkry in sy arms plaas.
Martin Luther het Psalm 46 as inspirasie gebruik vir sy lied “’n Vaste burg is onse God”: “’n Vaste burg is onse God,/ ons skuil in Hom, die sterke./ Hy is ’n vesting in die nood/ vir ewig staan sy werke.”
’n “Burg” is ’n oninneembare vesting, ondeurdringbaar vir die vyand. God is ’n vaste burg, ’n onbeweeglike vuurtoring. In die beskutting van sy liefde bedien Hy ons met wysheid.
Here God, dankie dat U onwrikbaar vas staan. Amen.
