“Maar ellende wag vir julle, Fariseërs! Want julle is nougeset om ’n tiende van selfs die kleinste deel van julle inkomste te gee, maar julle vergeet heeltemal van regverdigheid
en die liefde vir God. Julle moet regverdigheid en liefde beoefen, maar sonder om die tiendes na te laat.”
– Lukas 11:42
Baie van ons het ’n selektiewe geheue. Ons onthou baie makliker ander se krakies en vergeet gerieflikheidshalwe van ons eie tekortkomings. Het jy ook hierdie blindekolle of dink jy selde daaroor na of jou uitlewing van jou geloof vir die Here aanneemlik is?
Daar is baie slaggate waarin jy kan trap wanneer jy jouself te ernstig opneem en jouself op ’n hoë geestelike voetstuk plaas. Jy doen dit dalk omdat jy sekere reëls nakom, soos om jou tiende te gee. ʼn Meerderwaardige siening van jouself kan maklik veroorsaak dat jy neersien op mense wat na jou mening verkeerde dinge doen. Wat gebruik jy as maatstaf om mense te beoordeel? Hopelik nie jouself nie!
Die Woord hierbo vermaan gelowiges teen selfverheffing en geestelike hoogmoed. Die Here het ’n afsku van mense wat dink hulle is beter as ander. Wanneer ons te ingenome raak met onsself en ons stralekransie te styf op ons koppe sit, loop ons gevaar om die belangrikste boodskap van Jesus se Goeie Nuus mis te loop.
Dis goed en reg om jou tiendes te gee en goeie dade te doen. Ons mag egter nooit vergeet van die heel belangrikste nie: om altyd regverdig en nederig en liefdevol teenoor God en mense op te tree.
Bruisgebed vir vergeetagtiges: Here, help my om eerder my eie swakhede te onthou en daaraan te werk om dit te verbeter as om myself as ’n beter mens as ander te beskou. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.