Groot en magtig is ons Here. Sy kennis ken geen grens nie.
– Psalm 147:5
Die menslike verstand bestaan uit drie dele: die lae oerbrein wat veg of vlug; die middelbrein wat emosies en data verwerk, en die oorhoofse brein wat als deurdink en skadelike reaksies monitor. Ongelukkig is ons almal nie bereid om ons oorhoofse brein te ontwikkel nie, maar dit is so nodig om meer insig te kan kry.
Ek glo geestelike groei gaan hand aan hand met meer begrip en insig. Sonder gesonde verstand bly ons geestelik en emosioneel onvolwasse en arm. God se Woord kom hier tot ons redding.
Spreuke is vol rigtingwysers oor verstandigheid en wysheid. Hierdie Bybelboek gee aan ons vele wenke en voorbeelde wat ons kan help om ons gesonde verstand en insig te ontwikkel. Tog is daar so baie mense wat nie in insig en begrip toeneem nie. Hulle gaan graag kerk
toe, maar hulle emosionele gedrag bly soos dié van onverstandige kleuters en is dikwels nie in pas met God se Woord nie.
Ek wens soms iemand wil ’n verpligte kursus in die ontwikkeling van verstandigheid en emosionele intelligensie vir alle mense instel. Mense met emosionele intelligensie reageer nie net op hulle oeremosies of ego’s nie; hulle reageer op God se rigtingwysers. Hulle onderwerp hulle aan sy leiding.
Verstandige mense is bereid om te luister na God se goeie raad en dit toe te pas. Verstandige mense aanvaar verantwoordelikheid en blameer nie ander vir hulle foute nie.
Verstandige mense is nie liggeraak nie. Verstandige mense is ’n groot aanwins vir enige gemeenskap.
Vra die Here vandag om jou as gelowige toe te rus met sy goddelike verstandigheid en wysheid.
Bruisgebed vir verstandigheid: Here, ek verstaan nie altyd nie, maar ek onderwerp my beperkte verstand aan u groot verstand en insig en goddelike wysheid. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
