Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.
– Hebreërs 3:14
Die lewe is nie noodwendig makliker net omdat ons Christene is nie. Ons sal steeds deur beproewings gaan, net soos enige ander mens. Ons sal steeds frustrasies, woede en pyn beleef.
Watter betekenis het jou geloof vir jou? Watter voordele bring dit vir jou in jou lewe? Is die Here vir jou meer soos ’n spaarwiel wat jy net in noodgevalle gebruik, of het jy ’n diep innerlike bewustheid van Hom wat altyd by jou is? As jy voortdurend bewus is daarvan dat jy diep aan Hom verbind is, sal dit jou help om die krisisse in jou lewe te hanteer.
Mense wonder dikwels waar ek die krag kry om in tye van beproewings en uitdagings steeds optimisties te bly. Baie mense glo ek is van nature innerlik sterker as hulle – of op ’n geestelik hoër plek as hulle – en kan daarom beter cope in moeilike omstandighede.
Ek stem nie hiermee saam nie. Wat ek wel het, en wat my staande hou, is ’n diep bewussyn dat ek ’n hegte verbintenis met die Here het. Hierdie diep verbintenis gee aan my toegang tot sy voorregte wat ek kan geniet – ook te midde van probleme en uitdagings.
Ek kan deur die Here die pad vind na dinge soos krag, selfbeheersing en vriendelikheid. Wanneer ek ongeduldig is, kan ek my ongeduld vir sy geduld omruil. Wanneer woede my beetpak, kan ek dit vir sy liefde omruil. Wanneer ek wil kla, kan ek dit vir sy groot vrede omruil.
Wanneer ons ’n diep verbintenis met die Here het, ontdek ons die pad na al hoe meer voorregte in Christus.
Bruisgebed vir uitdagings: Dankie, Here, dat ek deur die uitdagings kan kom omdat ek gebruik maak van my voorregte as ʼn gelowige wat ’n diep verbintenis met U het.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.