“Moenie bang wees vir hulle wat julle wil doodmaak nie. Hulle kan net julle liggame doodmaak; aan julle eintlike menswees kan hulle nie raak nie.”
– Matteus 10:28
Ek bewonder waaghalse. As kind het ek gedroom om eendag ’n sirkusakrobaat te word. Ek het hierdie droom vinnig laat vaar toe ek besef het wat dit van my gaan vra – totale vreesloosheid.
Ek het baie respek vir mense soos Bear Grylls wat hulle vrese kan trotseer en kans sien om dinge te doen wat my laat sidder. Namate die jare aangestap het, het ek nog meer van ’n sissie geword. Ek droom lankal nie meer daarvan om saam met haaie te swem, Everest uit te
klim of self te bungee jump nie.
Gelukkig het ons elkeen ’n keuse of ons waagtoertjies wil doen of nie. Daar is egter ander vreesaanjaende dinge waaroor ons minder beheer het. Dinge soos kapings, inbrake, roof, moord en verkragtings neem toe in ons land. Mense vrees elke dag meer vir hulle lewe.
Wanneer hierdie dinge ons bang maak, kan ons onthou dat Jesus ook vervolg is. Hy is ook met vrees vir die dood gekonfronteer. Kan jy jou in sy posisie indink? Jesus het geweet daar was vir Hom geen uitkoms nie. Sy liggaam sou aan ’n kruis vasgespyker word en Hy sou
stadig en pynlik sterf.
God het Hom egter toegerus vir daardie oomblik. God het aan Hom die krag gegee om sy vrees vir die dood te oorwin. Jesus het besef sy vervolgers sou net sy liggaam kon doodmaak; aan sy innerlike menswees sou hulle nie kon raak nie.
Ons almal se liggame is sterflik, maar as gelowiges is ons innerlike gees onaantasbaar en bekroon met die ewige lewe. Mag hierdie wete jou vreesloos hier op aarde laat leef.
Bruisgebed vir vreesloosheid: Dankie, Here, dat ek vreesloos kan wees in die wete dat ek u kind is en dat niemand die ewige lewe van my af kan wegneem nie, nie eens die dood nie.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
