Laat my vreugde hieroor ook julle vreugde wees!
– Filippense 2:18
Wat gee vir jou vreugde? Wat laat jou siel sing? Wat laat voel jou of jy ’n bruisdrankie gedrink het en op die stad se mure kan gaan dans?
Jare gelede was die dinge wat my serotonienvlak ’n lift gegee het uiterlike dinge – dinge buite myself. Om verlief te wees het vir my vreugde gebring – totdat die soet smaak verdwyn het, soos kougom wat uitgekou is. Om te gaan shop en mooi klere te koop kon my ook opvrolik – vir ’n tydjie. Ook die vrolike events en partytjies met al die baie sjampanje in die vermaaklikheidsbedryf was ’n opkikker.
Die vreugde wat ek in hierdie dinge buite myself gevind het, was egter nooit blywend nie. Dit het yo-yo met my gemoed gespeel. Soms was ek uitgelate en op ’n high … en oomblikke later weer depressief.
Om ’n blywende gevoel van vreugde in my te vestig moes ek ʼn ander bruistablet gaan soek. ’n Bruistablet met borrels wat bly, ook wanneer uiterlike omstandighede nie so gunstig is nie.
In my soeke om nader aan die Here te groei, het Hy my bewus gemaak van sy dieper en blywende blydskap. Hy het my fokus verskuif na die eenvoudige en gratis dinge uit sy hand – daagliks voorregte wat ek voorheen as vanselfsprekend aanvaar het. Die geluid van die
wind deur die blare, die reën op die dak, die geure van my tuin, my gesondheid, my gawes, vriende en familie.
Vandag het ek ’n nuwe blydskap binne-in my. Hierdie onverwelklike vrolikheid, wat selfs in ongunstige omstandighede bly, kan geen mens met geld koop nie. Dit is die vrug van die Gees in ons gees.
Bruisgebed vir vrolikheid: Dankie, Here, dat ek toegang het tot ’n dieper en blywende blydskap. Help my om die soet vrug van u Gees se vreugde in my uit te leef in die wêreld. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.