Die woord van God is lewend en kragtig.
– Hebreërs 4:12
As kind kon ek nie wag vir die somer nie. Daar was die lang somervakansie met al die heerlike soet somervrugte. Ek onthou die perskes, appelkose, druiwe en spanspek, maar dit was veral die waatlemoen wat vir my die hoogtepunt was.
My pa het gereeld tydens ons seevakansies ’n waatlemoen as treat vir ons kinders huis toe gebring. Hy het met sy vingers teen die dik skil geklop om vas te stel of dit al ryp was voordat hy dit oopgesny het. Elke kind het ’n skyf van die soet rooi vrug op ’n bord gekry en
’n mes om die swart pitjies mee te verwyder.
Ons kinderoë was altyd in afwagting op die hart van die waatlemoen gerig – die soetste deel sonder enige swart pitjies om uit te haal of uit te spoeg. Jare later herinner hierdie beeld van die waatlemoenhart my aan die Here se hart. Soet, rooi en sonder enige swart pitjies.
Ek lees graag geestelike boeke wat deur ander mense geskryf is om my te help om geestelik te groei en ander se perspektiewe op spiritualiteit te kry. Hierdie leesstof is vir my verkwikkend soos die soet waatlemoenskywe uit my kinderjare.
Die hart van die waatlemoen is egter altyd God se suiwer Woord. Jy hoef nie met jou vingers daarteen te klop om vas te stel of dit ryp en soet is nie. Dit vorm die hart van alle geestelike leesstof. Ek maak daarom seker dat ek nie nét ander se geestelike boeke en perspektiewe op God lees nie, maar ook gereeld die suiwer waatlemoenhart (die Bybel) inneem.
Die woord van God is lewend en kragtig.
Bruisgebed vir verkwikking: Dankie, Here, dat ek gereeld my siel kan verkwik deur u suiwer woord te bestudeer. Help my om dit deel van my lewe te maak, elke dag.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.