Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik vir ons wat glo.
– Efesiërs 1:19
Wat is vir jou enorm of yslik? Wat beïndruk jou en laat jou klein en nietig voel wanneer jy jouself daarmee vergelyk? ’n Olifant dalk? ʼn Wolkekrabber in Japan? ’n Ruimteskip wat maan toe vlieg? Die krag van die see? ’n Aardbewing? ’n Donderstorm? ’n Tsoenami?
Watter maatstaf gebruik jy wanneer jy God se grootheid en krag probeer bepaal? Waarna kyk jy? Waarmee vergelyk jy Hom om ’n idee te probeer vorm van sy grootheid? Die meeste van ons kyk deur ons eie menslike lens en beperk Hom só.
Die krag van God is groter as enigiets wat ek of jy al ooit beleef het, enigiets waaraan ons kan dink en enigiets waaroor ons kan droom. Dit is enorm. Dit is yslik. Daar is nie ’n woord om God se krag mee te beskryf nie, want dit is onmeetbaar groot.
Die krag van God die Almagtige kan ’n pad deur die see maak, mense uit die dood opwek, blindes laat sien, kreupeles te laat loop, wonderwerke op enige plek laat gebeur. Daar is nie einde aan sy krag nie – dit is enorm. Meer nog, hierdie selfde enorme krag is in my en jou teenwoordig omdat ons in Hom glo. Dit is yslike woorde en dikwels te groot om regtig in te neem.
Dink ’n oomblik diep hieroor na en laat dit in jou hart nesskop: Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo.
Bruisgebed vir krag: Vader, ek besef nie hoe enorm groot u krag is. Dankie dat hierdie krag van U ook in my teenwoordig is omdat ek in U glo. Dit is ’n enorme wete!
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.