Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.
– Spreuke 27:17
Wanneer jy ’n stuk yster gladder, mooier en skerper wil slyp, gebruik jy ’n ander stuk yster om die werk te doen. In die proses word albei dan sommer mooier geslyp.
Dieselfde kan gesê word van vriende se invloed op mekaar. As daar wedersydse respek en waardering vir mekaar is, kan vriende ’n baie positiewe bydrae lewer om mekaar te help vorm tot beter mense met groter wysheid en insig.
Ongelukkig is nie alle mense gewillig om geslyp te word nie. Sommige is totaal onbuigsaam wat hulle sienings betref. Hulle beveg ander mense se menings ten sterkste en kan selfs veglustig raak. Hierdie mense loop die wonderlike geleentheid mis om gladder en mooier
geslyp te word. Nie net deur hulle vriende nie, maar ook deur God. Hoe voel jy oor die opbouende kritiek en raad van jou vriende?
Hoe voel jy oor die Here se werk om jou hart en karakter mooier te slyp? Hoe voel jy wanneer jy aanspreeklik gehou word vir jou foute? Staan jy die slypstene teë, of is jy bereid om na jou tekortkomings te kyk en só te groei tot iets meer as ’n stuk growwe yster?
Ons almal is ysters wat mekaar óf mooier en gladder kan slyp óf verkeerd kan opvryf. Sit ’n slag jou ego neer en probeer met ’n oop gemoed na opbouende kritiek luister. Dis al hoe jy mooier geslyp gaan word.
Dink ook hoe jy ander mense kan benader sodat hulle meer toeganklik sal wees vir vernuwing en groei in geestelike volwassenheid. ’n Sagte en nederige slypyster het meer krag as ’n harde en vlymskerp yster.
Bruisgebed vir geestelike groei: Here, dankie vir die hulp en ondersteuning wat U vir my gee. Maak my gewillig om te luister na u raad en opbouende kritiek, sowel as dié van wyse vriende, sodat ek in geestelike volwassenheid kan groei.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
