Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes.
– Galasiërs 6:9
Baie gelowiges doen graag dinge met groot ywer om mense in nood te help – veral agter die skerms. Soms reik hulle uit en help hulle ten koste van hulleself. Soms offer hulle hulle laaste krag, tyd, energie en geld op, alles in ’n poging om ’n goeie dienaar van die Here te wees.
Soms word ons beste pogings en liefdesdade egter sonder enige waardering of selfs ’n dankie ontvang. Baie van ons voel dan uitgebuit en sommer moeg van goeddoen. Ek verstaan dit. Ek het ook al só gevoel.
Wanneer dit gebeur, gaan rus ek by die Here en kom tot verhaal. Ek bepreek my emosionele moegheid met Hom. Ek deel my gevoel met Hom dat ek my pêrels voor swyne gegooi het. Ek is seker baie van julle kan julle hiermee vereenselwig.
Vandag se vers moedig alle teleurgestelde weldoeners aan om nie moeg te word en op te hou goeddoen nie. Ek is seker Jesus het ook soms moeg geword van mense wat nie sy goedheid kon raaksien nie – en Hom selfs beskinder en verraai het. Tog het Hy nooit sy hart
verhard nie.
Gaan rus by die Here wanneer jy uitgebrand en uitgebuit voel van goeddoen. Moenie met bebloede voete voortploeter nie. Wees eers goed vir jouself voordat jy weer die goeddoen-skinkbord optel.
Laat toe dat die Here jou verkwik met wat jy ook al nodig het om die goeie stryd met volharding enduit te stry. Daar is so baie werk om te doen – en so min getroue en ywerige werkers. Sy oes wag vir jou op die regte tyd. Vra Hom om jou te laat volhard.
Bruisgebed vir moeë weldoeners: Vader, dankie dat U my uitnooi om by U te kom rus wanneer ek moeg en uitgebrand voel sodat ek daarna met ywer kan uitgaan om weer goed te doen aan ander. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
